Eerste Wildlife Legacy veiling oortref verwagtinge

Wildswinkel open indrukwekkende nuwe veilingslokaal

Tydens die nuwe wildgroep Wildlife Legacy se eerste veiling het sowat 1 000 belangstellendes by Wildswinkel se nuwe veilingslokaal naby Bela-Bela saamgetrek. Tydens die suksesvolle veiling op 18 Junie 2016 is ’n omset van R47m vir 90 lotte behaal, met ’n rekordprys van R7m wat vir ’n Livingstone elandbul betaal is.

Die groot nuwe Wildswinkel veilingslokaal is ideaal ingerig vir wildsveilings, met genoeg ruimte en natuurlike lig. Die perseel is mooi geposisioneer tussen bosveldbome en gerieflik naby die R516, 12km buite Bela-Bela in die rigting van Thabazimbi.

Toe die eerste liefdadigheidslot, opgeveil deur Wildlife Legacy-voorsitter Sollie Potgieter van Burkea Wild vir ’n prys van R270 000 deur Kwanare se Wicus Coetzer gekoop word, het ’n mens besef ’n goeie veiling is op hande. Brandon Leer, afslaer van Wildswinkel het hierna begin met die opveil van hoë kwaliteit wild.

Een van die merkwaardige aspekte van die wildbedryf is die blywende gewildheid van njala. Vier lotte bestaande uit njalaverse is opgeveil vir ’n totaal van R828 000. Die teel van goeie kwaliteit njalas bly ’n winsgewende deel van baie wildboere se ondernemings, aangesien ’n bestendige mark vir hierdie unieke spesie se aanwas bestaan.

Die hoogtepunt van die veiling het sommer vroeg gekom as lot 10. Willem Kruger van Loskop Game Breeders het flink gebie vir Legend, Sollie Potgieter se besonderse Livingstone elandbul. Legend is ’n seun van Dawid, Potgieter se welbekende superbul.

Toe die hamer vir Legend uiteindelik op ’n rekordbedrag van R7m val, was dit egter op die bod  van Nyumbu Game se Norman Adami. Kruger kon wel teen die einde van die veiling ’n Livingstone elandkoei verwagtend van Dawid vir R1.5m aankoop.

Die goeie pryse behaal vir werkwaardige Livingstone elande tydens die Wildlife Legacy veiling onderstreep die huidige stand van sake in die wildbedryf. Alhoewel gemiddelde pryse vir gemiddelde diere behaal word, word uitstekende pryse steeds vir top genetika betaal.

In ’n wildmark met hoë aanbod van gemiddelde diere, behou skaars wild van werklik besonderse gehalte dus steeds uitstekende pryse. Die verskil tussen gemiddelde pryse en uitstekende pryse word, soos altyd, deur kwaliteit bepaal.

Volgens Lood Bester, hoof van Wildswinkel is dit tekenend van die normalisering van die wildbedryf. “By Wildswinkel is ons opgewonde oor die langtermyntoekoms en volhoubaarheid van die wildbedryf. Wildboere besef hulle winsgewendheid lê in die aanwas van gehalte diere en nie uitsluitlik in die kapitaalwinspotensiaal van groei in die prys van enkeldiere nie.

“Ons is dankbaar vir ’n uitstekende eerste Wildlife Legacy veiling. Die wildmark het die veiling goed ondersteun en ons sê dankie aan almal wat daar was, gebie en gekoop het. Ons gaan nog baie keer lekker veiling hou in die nuwe Wildswinkel veilingslokaal.”

Die volgende veiling wat deur Wildswinkel aangebied word vind plaas om 12:00, 1 Julie 2016. Dit is die onderneming se eie Wildswinkel Kalahari handelsmerkveiling op die plaas Moorivier digby Van Zylsrus. Katalogusinligting is beskikbaar op die Wildswinkel selfoonapp vir iPhone en Android. Besoek ook wildswinkel.co.za.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *