Groot Wintershoek Wild-veiling lok talle kopers

Wintershoek Wild se 1 000 diere, 100 lotte veiling ‘n sukses

Met ‘n reuse telery van top genetika uit heelwat verskillende bloedlyne, is Wintershoek Wild ideaal geposisioneer om aan nuwe toetreders tot die wildbedryf kwaliteit diere teen bekostigbare pryse aan te bied. Toe Wiaan van der Linde en sy span hul veiling vir 2017 beplan, was dit voor op hulle gedagtes.

Wildswinkel se innoverende Timed Auction geleentheid is deur Wintershoek Wild aangegryp om sorgvuldig uitgesoekte pakkies van teelgroepe aan te bied. Kopers bie deur middel van die WIldswinkel selfoon app of aanlyn deur middel van ‘n websnuffelaar op hierdie tipe veiling wat vir ‘n paar dae oop bly.

Elke lot op die Wintershoek Wild Timed Auction het uit sowat vyf tot 10 diere bestaan. Dit het beteken nuwe toetreders kon met slegs ‘n paar lotte dadelik wegspring in die wildbedryf.

Toe die laaste lot op die Timed Auction sluit, was dit met ‘n omset van R4.6m Wildswinkel se top Timed Auction van 2017.

 

Met die lewendige veiling in die ruim en besige Wintershoek Wild-veilinglokaal het dinge ook goed afgeloop. Die posisionering van die lewendige veiling het gesorg vir top gehalte teeldiere waarin enige teler, maar veral gevestigde telers sou belangstel.

Hierdie veiling het vir omset van R21m gesorg. Dit was een van die redes vir Wiaan se groot glimlag na die veiling. ‘n Ander rede was die lekker samesyn eie aan Wintershoek Wild. Met elke veiling wat hierdie gehalte groep aanbied kry mens daardie heerlike boere-veiling gevoel van vendusies van ouds. In eenvoudige taal is dit sommer net lekker om hier naby Kimberley in die Noord-Kaap te kan veiling bywoon.

‘n Besonderse groep Damara springbokke, spesiaal vanuit hierdie ongerepte gebied deur Mike Bredenkamp die land ingebring, het vir reuse opwinding gesorg. Die eerste lot is vir ‘n merkwaardige R80 000 elk vir vyf springbokke opgeveil.

 

‘n Ander hoogtepunt was die 4918” Wintershoek Wild swartwitpensbul wat vir R1.4m verkoop is.

 

In totaal het die Wintershoek Wild-veiling van 2017 ‘n omset van sowat R25.5m opgelewer, wat dit as een van die veilinghoogtepunte van die jaar posisioneer. Volgende jaar maak ons weer so!

 

 

 

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *