Positiewe afsluiting van Wildswinkel se veilingseisoen

Thaba Tholo-veiling goed ondersteun deur wildbedryf

Die Thaba Tholo-veiling se totale omset vir hulle twee veiling-dae het ’n merkwaardige R60.8m beloop. Onder huidige marktoestande is dit ’n reuse prestasie en aanduidend van die kwaliteit diere op veiling, asook die waarde wat die bedryf aan die Thaba Tholo bloedlyn heg.

Uit sekere geledere was daar voor die veiling fluisteringe dat verlede jaar se rekord-bedrae nie herhaal sou kon word nie. Dit is so, aangesien een enkele dier (die uitsonderlike buffelbul Inala) met een reuse bedrag tot die sukses van die veiling bygedra het.

Dit is noemenswaardig dat Thaba Tholo hul negende wildveiling kon afsluit met ’n positiewe gevoel oor die toekoms. Op dag een is daar ’n omset van R29.1m behaal vir buffels en ander diere, terwyl dag twee se swartwitpense vir omset van R31.7m gesorg het.

Die hoof uitvoerende beampte van Thaba Tholo, Rubin Els, het die veiling geopen deur te sê dat as daar ooit ’n kopersmark was, dit nou die geval is. Hy het nuwe toetreders en gevestigde wildtelers aangeraai om van die geleentheid gebruik te maak om goeie diere teen ekonomies-lewensvatbare pryse aan te skaf.

Hierdie oproep het nie op dowe ore geval nie en verskeie boere het heelwat diere op die veiling in persoon, of deur middel van telefoon-bieëry aangekoop. Teen die einde van die veiling was die gevoel onder Thaba Tholo se mense, sowel as die kopers van hul diere, een van tevredenheid.

Volgens Lood Bester, hoof van Wildswinkel, het Wildswinkel se wildveilingseisoen op ’n positiewe noot afgesluit. “Die jaar was vir almal in die bedryf met tye moeilik, maar ons gevoel is dat dinge ’n draaipunt begin bereik. Die vorige vier veilings wat ons namens kliënte aangebied het, het goed afgeloop. By Wildswinkel is ons positief oor 2018.

“Om seker te maak ons staan nie stil nie, beplan WIldswinkel weer een of twee vernuwings vir volgende jaar. Veilings wat deur middel van ons selfoon app oor tyd aangebied word, die sogenaamde timed auctions, gaan ’n toenemend-belangrike rol speel in die bedryf. Daar gaan ook ander innoverings plaasvind. Ons sal aan die einde van Oktober 2017 ons Wildsvisie Seminaar 2018 aanbied om ons planne vir volgende jaar toe te lig.”

Bester sê die wildbedryf bly ’n gewilde bestemming vir belegging. “Ons is almal bevoorreg om met wonderlike diere te kan teel. Alhoewel ons moet seker maak dat ons suksesvolle besighede bedryf, kan ek ook sê dat dit fantasties is om deel te kan wees van die natuurlewe. Dit is kosbaar op ’n manier wat geld nie kan meet nie.”

 

 

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *