Tien wildfotografiewenke vir die beginner

Neem beter wildfoto’s

Algemene taalgebruik-indeks

Sluiterspoed – Shutter speed

Lensopening  – Aperture

Brandpunt – Focus/Zoom

Ken jou toerusting

Wanneer jy foto’s van diere neem in die natuur, kan toestande vinnig verander. Daarom is dit belangrik dat jy weet hoe om die nodige verstelling aan jou kamera te maak om sodoende die perfekte foto vas te vang. Verstaan die basiese beginsels van sluiterspoed, lensopening en ISO. Ken al die knoppies op jou kamera en verstaan hoekom hulle daar is.

001

Beheer die diepte van die omgewing

Deur die verstelling van jou kamera se lensopening beïnvloed jy die diepte van die omgewing. Dit is die areas voor en agter jou onderwerp wat in fokus is. As jy jou kamera op ’n lae diepte  (f2.8, f4, ens.) stel, stel dit jou in staat om die onderwerp van die agtergrond te isoleer en beklemtoon dit die onderwerp in die foto.

Maak seker jy neem skerp foto’s

Omrede weersomstandighede so maklik kan verander, is dit belangrik om altyd ’n ogie te hou op jou kamera se sluiterspoed. Die algemene reël is dat indien jou onderwerp nie beweeg nie, jou sluiterspoed ten minste 1x jou brandpunt moet wees. So as jou brandpunt 400mm is moet jou sluiterspoed minstens 1/400 sekonde wees om konsekwent skerp beelde te verseker.

In fokus

Maak seker dat jou kamera op die regte onderwerp gefokus is en nie per ongeluk op die agtergrond nie.

Kyk jou onderwerp in die oë

Dis belangrik om jou onderwerp op oogvlak af te neem. Lê op jou maag as jy moet of staan op ’n miershoop, maar maak seker dat die kamera op dieselfde vlak is as die oë van die dier wat jy afneem.

Fokus op die oë

Dit is belangrik om die oë van die dier in fokus te kry, omrede dit die kyker se aandag trek en dit die dier “lewendig” laat lyk.

Skiet op verskillende brandpunte

Dikwels wanneer jy foto’s neem, val jy maklik in ʼn groef en neem jy op dieselfde brandpunt, wat lei tot dieselfde foto’s of baie soortgelyke foto’s. Naby skote vang baie detail vas, terwyl jy met behulp van ’n wyer brandpunt baie meer van die dier kan vertel. Probeer dus om op verskillende brandpunte af te neem, met verskillende aspekte van die dier in die prentjie.

Neem die onderwerp vanuit verskillende hoeke af

Probeer konsentreer op die verskillende eienskappe van jou onderwerp waarop jy wil fokus, naamlik die horings, die gesig of die grootte van die dier. Dit kan bereik word deur die onderwerp van verskillende hoeke af te neem.

Let altyd daarop dat wanneer jy ʼn vol-lyf foto van ʼn dier neem, jy seker maak dat jy nie die dier se pote afsny nie. Indien ’n dier se pote in die gras of water wegraak, moet jy nog steeds genoeg spasie los sodat dit lyk of sy voete/bene plek het om in te pas.

Wanneer jy foto’s van jou onderwerp neem vir advertensiemateriaal, maak seker dat jy altyd ʼn portret foto en landskap foto van die dier neem.

Maak die meeste van die lig

Vroegoggend en laatmiddag voorsien gewoonlik die beste lig vir fotografie – ʼn goue sagte lig wat die dier komplimenteer en die regte atmosfeer skep.

In die middel van die dag is die lig gewoonlik te helder en hard en skyn dit van bo, wat keer dat jy die detail van die bok kan vasvang.

Wenk: Dit is nie ʼn goeie idee as die son direk agter jou onderwerp is nie, tensy jy probeer om ʼn silhoeët te skep.

Hou jou agtergrond in gedagte

Hou jou gedagtes gefokus op die beeld as ʼn geheel. Kraglyne, drade en voerbakke kan soms ʼn ernstige afleiding wees en die fokus wegtrek van die dier.

As jy natuurfoto’s neem moet jy ook altyd kyk dat jou horison reguit is en nie ’n bietjie skuins loop nie.

 

1 reply

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *