Veilingslokaal duisend

Wildswinkel voeg daad by die woord met moderne veilingstuiste

Toe Wildswinkel in November 2015 hul nuwe veilingsonderneming aangekondig het, het min mense geweet hoe vinnig hierdie splinternuwe veilingshuis sou groei. Van ses veilings vir hul kliënte en vier van hul eie Wildswinkel Handelsmerkveilings, het die lys kliënteveilings nou verdubbel tot ’n groottotaal van 12. As ’n mens hul eie vier veilings by tel, organiseer Wildswinkel in hulle eerste veilingseisoen 16 uitgesoekte wildsveilings.

Wildswinkel se bosveldkantoor is ideaal geleë neffens die R516 op die pad na Zebula, Mabalingwe en Mabula sowat 12km buite Bela-Bela. Dit is hier waar kopers en verkopers deur middel van Wildswinkel se bemiddeling hul wild maklik, eerlik en direk kan koop en verkoop.

Aangesien Wildswinkel verskeie veilings in die bosveld hou, het die dinamiese span agter hierdie innoverende onderneming besluit om hulle eie wildsveilingslokaal digby hulle direkte verkoopskantoor op te rig.

Wildswinkel Veilingslokaal

Die eerste veiling van Wildlife Legacy is op 18 Junie 2016 hier gehou. Lood Bester, besturende direkteur van Wildswinkel sê dit is ’n voorreg om die eerste Wildlife Legacy-veiling as die eerste veiling in die nuwe Wildswinkel-veilingslokaal aan te bied. “Ons het gepoog om ’n veilingslokaal te skep waar kopers en verkopers mekaar in ’n gemaklike, professionele omgewing kan ontmoet om lekker saam veiling te hou.

“Die vestiging van ons eie Wildswinkel veilingslokaal dui op ons langtermynverbintenis tot die wildbedryf en ons totale toewyding daaraan om ons kliënte die beste moontlike diens te lewer.”

Die argitektoniese inslag van die gebou is om elemente eie aan die bosveld soos klip en hout te vertoon. Langs die moderne bosveldgevoel van die Wildswinkel-kantoor, is die veilingslokaal in ’n boomryke omgewing geplaas om ’n mens tuis te laat voel soos by veilings van ouds.

Om seker te maak veilings vloei effektief en doelmatig, beskik die Wildswinkel veilingslokaal oor moderne klank- en beeldtoerusting. Bester sê hulle het in van die beste toerusting belê om seker te maak veilings verloop vlot.

By Wildswinkel se veilings kan ’n mens gebeure op verskeie groot skerms volg, terwyl lotpryse vertoon word soos die hamer val. Klank en beeld vorm saam ’n geheel wat die koper deurentyd goed ingelig hou oor waar die veiling op enige stadium staan.

Innovasie is in Wildswinkel se DNS

Wildswinkel innoveer ook steeds op tegnologiese gebied. Die gewilde Wildswinkel selfoon app vir iPhone en Android fone is reeds ’n onmisbare deel van die wildbedryf omdat dit alle Wildswinkel-veilings se lotpryse lewendig deurgee soos die hamer val.

Nou het Wildswinkel ook hulle direkte verkoopskatalogus op die Wildswinkel app bekendgestel.

Dít maak van die Wildswinkel app ’n bruikbare hulpmiddel selfs wanneer ’n veiling nie aan die gang is nie. Gebruikers kan maklik deur die itemlys blaai om te kyk of die dier waarna hulle op soek is, beskikbaar is.

Op die app kan ’n spesifieke spesie ook gekies word, wanneer die app dan slegs items van daardie spesie vertoon.

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *