Wildsvisie Seminaar 2018: Mediavrystelling

Positiewe vooruitsigte bespreek

Wildswinkel se nuwe model vir reserwes

BELA-BELA Sowat 250 geesdriftige lede van die wildbedryf het Donderdagoggend, 26 Oktober 2017 opgedaag om die Wildswinkel Wildsvisie Seminaar 2018 in die veilingshuis se lokaal digby Bela-Bela by te woon. Van die bekende rolspelers in die bedryf wat daar was sluit in Norman Adami, Dries Visser, Angus Sholto-Douglas, Pieter Bellingan, Jacques Malan, Wiaan van der Linde en Wicus Pretorius, om net ’n paar te noem.

Nadat die verrigtinge deur Wildswinkel se finansiële hoof Dirk Wolfaardt op die gepaste wyse geopen is, het Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se Adri Kitshoff-Botha die waardeketting van die wildbedryf uiteengesit en verduidelik aan die hand van insiggewende statistiek.

Kitshoff-Botha se uitgangspunt is dat die verskillende rolspelers in die wildbedryf nie in silo’s effektief kan optree nie. Individue en organisasies in the teel-, jag-, toerisme- en produkte-dele van die wildbedryf se waardeketting moet saamwerk om die bedryf se regmatige plek binne die landbou-ekonomie te versterk. Dit beteken die antwoord vir wildboere is om binne die waardeketting te diversifiseer.

Haar standpunt dat die jagbedryf uiters belangrik is word deur statistiek ondersteun. Dit sluit plaaslike sowel as oorsese jagters in. Volgens die nuutste beskikbare syfers was daar sowat 200 000 plaaslike jagters wat deel was van die bedryf in 2015. Oorsese besoekers, hoofsaaklik uit Amerika, het sowat 7 600 beloop. Dit vergelyk goed met buurlande soos Namibië. (Kitshoff-Botha sê onlangse aangehaalde syfers wat ’n groot verskil tussen oorsese jagters in Suid-Afrika en Namibië aandui, dalk ’n statistiese verskynsel is, eerder as wat dit die werklikheid verteenwoordig.)

Ander aspekte van die wildbedryf soos toerisme en produkte (van wildsvleis tot speelgoed vir troeteldiere), kan deur telers ontgin word om inkomstestrome effektief uit te bou.

Stephan Naudé, ’n gevestigde wildteler van Sihencha Game Breeders het na Kitshoff-Botha gesels oor hoe om ’n realistiese siening van ’n boerdery te ontwikkel. Aan die hand van praktiese voorbeelde uit sy eie ervaring het hy ’n verskeidenheid aspekte uitgelig waarna wildtelers kan kyk.

In aansluiting by Kitshoff-Botha het Naudé vertel hoeveel sukses hy die afgelope tyd met plaaslike jagters gehad het. Sy diversifikasie na jag het goeie vrugte afgewerp.

Een van die belangrikste aspekte wat hy aangeraak het is die noodsaaklikheid van die ontwikkeling van ’n positiewe identiteit deur middel van doelmatige bemarking en die investering in ’n professionele eie handelsmerk. ’n Bekende handelsmerk skep vertroue en gemoedsrus by wildkopers, veral as dit ook ondersteun word deur aksies soos hoë kwaliteit naverkoopdiens.

Na die eerste twee sprekers het die hoof van Wildswinkel Lood Bester statistiese inligting gedeel oor Wildswinkel se 2017 veilingseisoen.

Wildswinkel het ’n daling in totale omset tussen 2016 en 2017 ervaar hoofsaaklik as gevolg van die daling in wildpryse.

In die volgende tabel word die verskille tussen verlede jaar en hierdie jaar se omsette vir die hoofspesies op veiling uiteengesit:

Bester het gesê die hele bedryf het ’n uitdagende periode agter die rug. Hy het beklemtoon dat dit elkeen se eie keuse is om nou óf in sak en as te sit en te kla, óf om daadwerklik op te tree en planne met ’n positiewe ingesteldheid te maak. Hy het gesê Wildswinkel het reeds ’n reeks strategieë ontwikkel om 2018 met ’n optimistiese gemoed binne te kan gaan.

“Wildswinkel sien uit daarna om saam met sy vennote, synde die groepverkopers en die individuele verkopers op Wildswinkel se handelsmerkveilings, die nuwe seisoen aan te pak en hande te vat om oplossings te vind eerder as om pessimisties te wees,” meen Bester.

Wildswinkel beplan tussen 25 en 30 wildveilings vir volgende jaar, wat veilings namens kliënte en eie handelsmerkveilings insluit.

Nuwe model vir reserwes tydens Wildswinkel se handelsmerkveilings

“Wildswinkel se handelsmerkveilings gee vir telers wat nie toegang het tot groot veilings soos dié wat Wildswinkel namens kliënte aanbied nie, die geleentheid om deel te neem aan hoë kwaliteit, goed georganiseerde en sorgvuldig bemarkte veilings,” verduidelik Bester. “Om seker te maak sulke veilings het die beste kans op sukses, gaan Wildswinkel noemenswaardige koste aan, soos wat spandeer word op die beskikbaarstelling van ’n professionele veilingsgeleentheid, bemarking, intydse veilingsinligting en ander noodsaaklike dienste.”

Om wildtelers wat belangstel om hulle diere tydens Wildswinkel handelsmerkveilings te verkoop tegemoet te kom, word ’n nuwe model vir lotte met reserwepryse beplan vir 2018.

Die nuwe reserwebeleid bepaal dat reserwepryse geplaas kan word op lotte met ’n beraamde verkoopswaarde van meer as R250 000. Onder die kerf van R250 000 sal die lot steeds op ’n geen reserwe basis aangebied word.  Sou ’n verkoper verkies om ’n lot te verkoop met ’n reserweprys, sal ’n minimum deposito betaalbaar wees om Wildswinkel se kostes en risiko te bestuur. Die deposito betaalbaar word op ’n glyskaal-beginsel toegepas.  (Voorwaardes geld: Die beraamde reserwebedrag word vasgestel in samewerking met Wildswinkel ten einde ’n markverwante beraming te doen op elke spesifieke lot. Indien die lot verkoop word, word die kommissie verreken teen die deposito. As die lot nie verkoop word nie, word die deposito verbeur.)

Bester het tydens die bespreking na afloop van sy voorlegging aangedui dat hierdie nuwe beleid van toepassing is op die Wildswinkel handelsmerkveilings van 2018, maar dat die behoeftes van die breë wildbedryf vooropgestel word en dat aanpassings aan die beleid oorweeg kan word na praktiese ervaring daarvan.

Laai die volledige Wildswinkel voorlegging as ’n PDF af: http://bit.ly/2gNUt27

Wildswinkel Versekering se gemoedsrus en bobaas voer vir bobaas resultate

Aan die einde van die seminaar het Jaco Pretorius die versekering van wild sorgvuldig bespreek, terwyl Dr Conrad Coetzer koste-effektiewe voerpraktyke vanuit ’n Wildswinkel Voere perspektief gestel het.

 

0 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *