Wildswinkel tree toe tot die wildveilingbedryf

Wildswinkel is nuwe speler in wildveilingbedryf

Wildswinkel is sowat ’n jaar gelede deur vooraanstaande beleggers in die wildbedryf geskep met die doel om die uit die hand verkope van wild op ’n maklike, eerlike en direkte basis te doen. Volgens Lood Bester, hoof van Wildswinkel, het hy en sy mede-aandeelhouers gevoel dít is hoe wildboere graag sal wil besigheid doen. Daarom het hulle die geleentheid aangegryp om so ’n wildverhandelingsplatform te skep.

“Met ons toetrede wou ons verseker dat daar ’n bepaalde sakedissipline gehandhaaf word in alles wat ons doen. Transaksies verloop vlot omdat ons die pad saam met ons kliënte loop met ’n deursigtige vennootskapsaanslag. Ons dring aan op belangrike aspekte soos data met betrekking tot stambome en DNA rekords. Verder maak ons ook seker dit is data met integriteit,” verduidelik Bester.

Wildswinkel se sakebenadering het vinnig aanklank in die wildbedryf gevind. Behalwe vir die onderneming se hoofkantoor naby Bela-Bela is ’n nuwe kantoor ook onlangs in Kimberley geopen. Volgens Bester is hulle voortdurend op die uitkyk na nuwe geleenthede in die wildmark. “Die aandeelhouers van Wildswinkel is almal in hulle eie reg suksesvolle entrepreneurs en sakemanne. Ons volgehoue belegging dui op ons vertroue in die toekoms van die wildbedryf.”

Een van dié geleenthede wat Wildswinkel raakgesien het is gesetel in die wildveilingbedryf. “Ons het die hoogste agting vir Vleissentraal,” sê Bester. “Hierdie gevestigde onderneming het die wildveilingbedryf so te sê geskep. Ons glo egter ook in gesonde mededinging in die mark. Dit hou almal op hulle tone en verseker die beste diens aan die wildbedryf in geheel.”

Vernuwing

Wildswinkel Veilings is as nuwe wildveilingonderneming op 1 September 2015 gestig met sy kantore te Lynnwood Bridge sakekompleks in die ooste van Pretoria. Volgens Bester sal Wildswinkel Veilings ook op gesonde sakebeginsels gefundeer wees. Slegs ’n beperkte aantal beduidende wildveilings sal in 2016 aangebied word om te verseker dat die nuwe onderneming stelselmatig kapasiteit bou en met dieselfde integriteit as Wildswinkel groei, ook met ’n langtermyn besigheidsbenadering.

Bester dui aan dat hulle veiling kalender reeds volbespreek is vir 2016. “Ons is opgewonde dat ons eerste veiling die bekende Piet du Toit-Wildbedryf veiling op 13 Februarie 2016 gaan wees. Wat ’n voorreg om met so ’n veiling af te skop en op dié manier ’n stewige fondasie vir Wildswinkel Veilings te skep,” sê Bester.

Beyers Gerber, Piet du Toit en Lood Bester

Beyers Gerber, Piet du Toit en Lood Bester

Du Toit is ook opgewonde oor Wildswinkel Veilings se betrokkenheid. “Ek en my vennote Beyers Gerber, Stephan Naudé en Jaco Naudé het gehou van die voorstelle waarmee Wildswinkel Veilings vorendag gekom het. ’n Nuwerwetse tegnologiebenadering tot wildveilings, sowel as ’n hernude fokus op bemarking en diens pas ons goed.”

Behalwe vir die bestaande gevestigde veilings wat volgende jaar aangebied gaan word, sal Wildswinkel Veilings ook hulle eie Wildswinkel-handelsmerk veilings aanbied.

Die eerste sal by hulle kantoor in Bela-Bela gehou word (waar die suksesvolle Klipkamp buffelveiling deur Wildswinkel as deel van hulle bekendstelling gehou is). Wildswinkel-handelsmerk veilings gaan ook in Kimberley en in die Kalahari gehou word. “Met ons Wildswinkel-handelsmerk veilings wil ons ’n gehalte diens bied vir die boere vir wie dit nie sin maak om hulle eie veilings te hou nie. Met dié veilings sal ons streng keuring van diere toepas en slegs top diere bemark,” beklemtoon Bester.
“Verder is ons strewe om hierdie veilings aan te bied met dieselfde kwaliteit en diens as waarmee die bestaande en erkende groot veilings aangebied word.”

Markbehoefte

Tydens ’n gesprek met Bester is dit moeilik om nie meegesleur te word deur sy entoesiasme oor die wildbedryf en die nuwe onderneming nie. By Wildswinkel is al die aandeelhouers wildboere in eie reg en ken hulle die wildbedryf goed. Volgens Bester speel hulle ook graag ’n rol in strategieë wat help om hulle kliënte meer susksesvolle wildboere te help maak.

“Ons het ’n hele paar lesse geleer die afgelope jaar,” kyk Bester terug oor die tyd sedert Wildswinkel se totstandkoming. “Een van die dinge wat ons opgeval het is dat die wildbedryf tot so ’n mate gegroei het dat daar ruimte is vir ’n nuwe rolspeler in die wildveilingbedryf.

“Baie van ons kliënte het begin navraag doen of ons hulle kan bystaan met hulle veilings. Ons het ons huiswerk gedoen en besef dat ons wel die vermoë en kapasiteit het om ’n positiewe bydrae in die aanbied van wildveilings te maak.”

Wildbedryf

Huidige wildprystendense dui aan dat pryse oor die algemeen nie dieselfde groei toon as ’n jaar gelede nie. Bester is nie bekommerd nie. “Regte boere is sakemense,” beklemtoon hy.

“Die tradisionele sakemodel vir veeboere is dat daar deur die teel van aanwas wins gegenereer word. Kapitaalgroei van enkele diere of diersoorte vorm nie gewoonlik deel van so ’n sakemodel nie. In die wildbedryf het ons dalk gewoond geraak daaraan dat as ’n dier verlede jaar R500 000 gekos het, dieselfde dier vanjaar maklik vir R600 000 verkoop kan word. Dit is belangrik dat ons as wildboere ons boerdery model aanpas. Die klem moet verskuif van kapitaalgroei op basisdiere na aanwas vanuit basisdiere.

“Gevestigde boere weet dat dit belangriker is om ná die aankoop van ’n uitsonderlike dier met goeie genetika, aanwas teen ’n billike prys te kan verkoop. Só genereer jy wins vir jou boerdery. Dié verskil tussen aanwasboerdery en winsmaak uit kapitaalgroei is tans besig om in die wildbedryf pos te vat. Dit is ’n gesonde neiging en sal die toekoms vir ons almal verseker.

“Dit is tyd dat ons nie net reken op hoë verkoopspryse om hierdie besigheidsmodel te maak werk nie. Soos in enige veeboerdery is aanteel ook ’n belangrike komponent.”

Louis van der Watt, een van die aandeelhouers van Wildswinkel en die mede-stigter van die Atterbury groep, glo die wildbedryf is fundamenteel gesond. “Wildswinkel se susksesvolle totstandkoming bewys dat die toepassing van doelmatige sakebeginsels goed werk in ’n hoë waarde bedryf soos wildboerdery,” beaam hy.

“Met Wildswinkel Veilings beplan ons om, as ’n begin, slegs ’n paar veilings deurdag aan te bied. Ons doelstelling is ook nie om noodwendig veilings teen laer kommissie aan te bied nie, maar om wat ons doen uitstekend te doen. Oor die afgelope jaar het Wildswinkel wêreldklas bemarkingsplatforms in die wildverhandelingsmark gevestig. Ons beplan om dit ook in die wildveilingbedryf te doen,” sê Van der Watt.

2 replies

Leave a Reply

Want to join the discussion?
Feel free to contribute!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *