01

02
03
04
05
06
07
08
09

Kontakbesonderhede

Victor Matfield
082 332 3355
victor@wildswinkel.co.za
Hendrik de Kock
083 347 5325
hendrik@wildswinkel.co.za
Charl van der Westhuizen
083 282 9922
charl@wildswinkel.co.za
Finansies
Chantelle de la Porte
082 780 9745
chantelle@wildswinkelvoere.co.za
Voedingskundige

Hoekom Wildswinkel Voere?

Wildswinkel Voere is

  • Spesie-spesifiek
  • Area-spesifiek
  • Seisoen-spesifiek

Wildswinkel Voere bevat

  • Unieke tegnologie
  • Gehalte grondstowwe
  • 12 jaar se wildnavorsing

Hoe het Wildswinkel Voere ontstaan?

Hoof Voedingskundige Dr. Conrad Coetzer (PhD, PPM, Pri Sci Nat)

Dr Conrad Coetzer het sy BSc (Agric) Hons graad in 1994 aan die Universiteit van Petoria behaal. Hy het in 1995 by die Landbounavorsingsraad – Irene aangesluit as ’n navorser in herkouervoeding en was in dié posisie tot 2000. Gedurende hierdie tyd het hy ’n meestersgraad voltooi, ook aan die Universiteit van Pretoria. In 1997 het hy die American Fulbright Scholarship ontvang en in 2000 ’n doktorsgraad in diere- en mensevoeding aan die Kansas State University in die VSA behaal. Hy het ook ’n graad in projekbestuur in 2002 aan UNISA behaal. In 2000 is hy aangestel as produkontwikkelingsbestuurder by Kynoch Voere. Hy het by AFGRI Veevoere aangesluit in 2002 as direkteur van tegnologiese ontwikkeling en het hier gebly tot 2010. Later in 2010 het hy sy eie konsultasiemaatskappy gestig, waarin hy steeds vir verskillende rolspelers in die plaaslike, sowel as internasionale voer- en veebedryf konsulteer. Hy konsulteer onder andere vir voerkrale met ’n gekombineerde staankapasiteit van bykans 200 000 beeste. Hy het al meer as 50 wetenskaplike, semi-wetenskaplike en populêre artikels gepubliseer en het al referate gelewer by meer as 30 internasionale konferensies en werkswinkels. Hy is die houer van ’n internasionale patent in aminosuur-voeding. Hy is betrokke by ’n grassaad-maatskappy en is aandeelhouer by ’n maatskappy wat op in-vitro embrioproduksie fokus. Hy is betrokke by navorsing oor wildvoeding vir die laaste 12 jaar en is ’n deeltydse wild- en beesboer in die Nylstroom/Vaalwater distrik.

Agtergrond inligting

Wildvoeding

In enige besigheid is dit belangrik om jou kliënte se beste belange op die hart te dra. In die wildvoerbedryf is kliënte nie die boere nie, maar die wild self. Om ons in staat te stel om die voeding van wild optimaal toe te pas is dit belangrik om die verkillende eetgewoontes, spysverteringstelses, voorkeure en agtergrond inligting van die spesifieke wildspesie te verstaan.

Die algemene wildspesies kan in twee kategorieë verdeel word. Ruminante of herkouers (bv. buffel) en agterderm/dikderm verteerders (bv. renoster).

Herkouers kan verder in drie breë kategorieë verdeel word, naamlik konsentraat- of blaarselekteerders, intermediêre- of gemengde-vreters en grasvreters.

Wildspesies val streng gesproke nie een honderd persent in ’n spesifieke klas nie, maar hulle word ingedeel volgends die vlak van seleksie-intensiteit. Die volgende diagram illustreer die verskillende seleksie-intensiteite van hoog na laag vir die verskillende spesies.

Indien meer as een spesie in ’n spesifieke kamp aangehou word, moet die diere meer na die linkerkant van die diagram gevoer word. Dit verseker die beste voedingswaardes vir al die spesies teenwoordig.

Blaarvreters

Blaarvreters selekteer voer van hoë kwaliteit en verteerbaarheid. Hierdie voere is hoog in proteïene en energie en laer in vesel in vergelyking met grasvreters se dieet. Blaarvreters selekteer plantsoorte met sappige blare, kruide en vrugte.

Blaarvreters het kort en gereelde eetsessies, met ’n kort herkouproses. Voer beweeg vining deur die verteringstelsel, dus is daar ’n lae retensietyd van verteringsmateriaal in die grootpens. Hierdie diere kan nie ’n hoë vesel dieet handhaaf nie, as gevolg van ’n kleiner rumen en omasum. Gespesialiseerde lang papilla op die rumen wand verseker ’n vergrote oppervlakte vir opneming van hoë kwaliteit voer.

Rumen wand papilla

(RR Hofmann, 1989)

Daar word gepostuleer dat blaarvreters ’n interessante meganisme het wat vertering van hoogsverteerbare voere verbeter. Die voer word deur die ventrikulêre groef vervoer, direk na die omasum. Die rumen word dus omseil en hierdie voer kan direk deur die dier se eie ensieme verteer word, in plaas van deur die mikro-organismes van die rumen. Minder voedingswaarde gaan dus verlore.

Die speekselkliere van blaarvreters is drie tot vier keer groter in verhouding met hulle liggaamsgewig, in vergelyking met grasvreters. Dus betsaan daar ’n hoër speekeselafskeiding, om die vinnige vloei van materiaal deur die verteringstelsel te verseker. Die hoër speekselafskeiding is ook belangrik as ’n buffer vir hoë vlugtige vetsuurkonsentrasies in die rumen, asook vir hoë verteerbare voer om die rumen te omseil, soos vroëer aangedui. Speeksel bind ook chemiese verdedigingsmeganismes van plante soos tanniene.

Die parotid speekselklier van die rooi duiker is 0.22% van liggaamsgewig
(RR Hofmann, 1989)

As gevolg van ’n hoër verteringstempo is daar meer onverteerde voer wat die rumen ontsnap. Slegs 40-60% van sellulose in vesel wat ingeneem word, word in die rumen verteer. Blaarvreters het dus ’n groter dikderm, in vergelyking met grasvreters.

(Aangepas vanuit RR Hofmann, 1989)

Blaarvreters het ’n groter lewer relatief tot liggaamsgrootte, in vergelyking met grasvreters. Die mondopening van blaarvreters is groter en hulle het langer tonge om afbreking van blare te verbeter.

Blaarvreters sluit in: rooi en blou duikers, klipspringers, koedoes en bosbokke.

Grasvreters

Grasvreters se dieet bestaan meestal uit lae kwaliteit grasse. Die verteerbaarheid, energiewaarde en proteïenwaarde van hulle dieet is laer as dié van blaarvreters.

Grasvreters spandeer baie tyd aan herkouing, met lang periodes tussen voersessies. ’n Selektiewe terughou-meganisme van voerpartikels verlaag voerinnames. Hoër herkouing verseker die vergroting van die oppervlakte van voerpartikels vir maklike toegang van mikro-organismes vir fermentasie. Dit is baie belangrik dat aminosure wat vir ’n spesifieke doel gevoer word (bv. horing groei, reproduksie, laktasie, haarkleed, ens,), gedeeltelik beskerm word teen mikro-organismes in die rumen.

Speekselkliere is heelwat kleiner relatief tot liggaamsgrootte, in vergelyking met blaarvreters.

Die parotid speekselklier van ’n buffel is ongeveer 0.06% van sy liggaamsgewig
(Aangepas vanuit RR Hofmann, 1989)

Grasvreters het ’n baie groter verteringstelsel relatief tot sy liggaamsgewig, in vergelyking met blaarvreters. Die verteringstelsel is 25-30 keer die liggaamslengte van die dier. Verder het hulle ’n groter rumen, retikulum en omasum as dié van ’n blaarvreter.

(RR Hofmann, 1989)

Grasvreters sluit in: waterbokke, gemsbokke, swartwitpense, bastergemsbokke, blesbokke, wildebeeste en buffels.

Gemengde vreters

Hierdie groep diere is goed aangepas om tussen blaarvreters en grasvreters in te pas. Afhangende van die seisoen, reënval en plantegroei, kan hierdie diere hulle dieet aanpas om aan hulle voedingsvereistes te voldoen.

Gemengde vreters kan blare en/of gras vreet. Hulle vreet minder gereeld as blaarvreters, maar meer gereeld as grasvreters. Daar is ’n groot variasie in vesel-innames by verskillende spesies.

Diere in hierdie kategorie sluit in: springbokke, rooibokke, steenbokke en elande. Nyalas word ook deur sekere kundiges as gemengde vreters beskryf.

Agterderm/dikderm verdeerders

Hierdie groep diere herkou glad nie. Hulle het slegs een maag en geen rumen nie. Die verteringstelsel is so aangepas dat fermentasie van vesels in die dikderm plaasvind. Die caecum speel ’n baie belangrike rol in die fermentasieproses. Hierdie diere neem hoë hoeveelhede vesel in en baie daarvan gaan verlore as gevolg van die relatiewe kleiner fermentasie-kompartement (in vergelyking met die rumen) en vinniger deurvloeitempo van verteringsmateriaal.

Diere in hierdie klas sluit in: renosters, olifante en sebras.

Wildsvoere oorsig

Al ons wildsvoere word wetenskaplik geformuleer deur ons gespesialiseerde voedingkundiges en word op meer as 12 jaar se wildnavorsing gebasseer. Die voere is spesiaal geformuleer om liggaamsgroei, reproduksie, melkproduksie, immuniteit, haarkleed en horinggroei te stimuleer. Hierdie formulasies is onder andere wat Bobaas Voere van die res van die mark onderskei.

Al die voere is geformuleer op metaboliseerbare aminosuur-basis. Die vlakke van spesifieke aminosure, sowel as hulle relatiewe verhoudings, word onder andere in ag geneem.

Die verhouding tussen energie en proteïen is baie spesifiek geformuleer en die vorm van energie stimuleer weidingsbenutting sonder om wild bloot te stel aan enige spysverteringsteurnisse.

Belangrike makro- en mikrominerale word in al die diëte ingesluit. Minstens agt verskillende vitamien en pro-vitamiene word in die formulasies ingesluit, asook belangrike vetsure wat reproduksie, horing groei (keratien-sement) en haarkleed bevoordeel.

Die pille word sag verpil om die effektiwiteit van die vesel te behou, sowel as om diere se tande langer te laat hou en om beter innames by jong diere te verkry.

Bobaas+

Beskrywing: Hierdie reeks is die top presteerder van alle wildsvoere op die mark. Die reeks word spesiaal vir die individuele boer geformuleer. Die formulasies is spesie- en area-spesifiek. Die Bobaas+ pil is vir die volgende spesies beskikbaar:

Buffel/wildebees

Die buffel is ’n sterk robuuste dier, wat in baie verskillende omgewings kan aanpas. Buffels verkies egter ’n omgewing met ’n kombinasie van digte bos, dekkings en oop graslande. Hierdie grasvreter verkies grasspesies soos Themeda, Panicum, Digitaria, Setaria, Cenchrus en Schmidtia. Buffels neem groot hoeveelhede gras in kort tydperkte in. Hulle is baie afhanklik van water en kan tot 45 liter per dag inneem. Buffels speel ’n belangrike rol om die grashoogte te verlaag vir meer selektiewe grasvreterspesies.

Die swart- en blouwildebees is die twee wildebees-spesies wat in Suid-Afrika aangetref word. Kleur variasies sluit in: goud, koning, brons, prins, wit en rooi wildebeeste. Wildebeeste is aangepas om korter grasse te vreet en word meestal in grasvelde van Suid- en Oos-Afrika aangetref. Wildebeeste is eksklusiewe grasvreters. Hulle verkies jong, kort en sappige gras-spesies soos Cynodon dactylon (kweekgras).

Ons buffel/wildebees pil is spesiaal geformuleer vir minder selektiewe grasvreters soos buffel en blou wildebees. Dit bevat ’n minimum proteïenwaarde van 14%. Hierdie grasvreters het ’n baie dinamiese rumenfunksie en die Bobaas+ wildpil is geformuleer om hierdie funksie te stimuleer en te onderhou, sonder enige verteringstelselsteurnisse.

Swartwitpens/bastergemsbok

Die swartwitpens het vier subspesies naamlik, Hippotragus n. niger (suidelike swartwitpens), H. n. variani (reuse swartwitpens), H. n. kirkii (Sentraal-Afrika swartwitpens) en H. n. roosevelti (Oos-Afrika swartwitpens). Die reuse swartwitpens word tans as ’n krities-bedreigde spesie gelys. Swartwitpense verkies digte graslande, met grashoogtes tussen 45cm en 150cm. Hierdie bokke is baie afhanklik van water. Hulle sukkel om aan te pas in droogtes en kan ook nie baie koue omgewings hanteer nie. Die tande van hierdie bokke val weer vinnig uit na 10 jaar in ouderdom en baie van hulle vrek dan van honger. Dit is belangrik om hierdie diere ’n aanvullingsdieet te voer in droë wintermaande.

Die bastergemsbok het vyf subspesies waarvan H. equinus equinus in Suid-Afrika aangetref word. Hierdie bokke is habitat-sensitief en word maklik uit ’n area uitgedryf indien getalle van sebras, vlakvarke, rooibokke of wildebeeste te veel toeneem. Bastergemsbokke is sensitief vir longontsteking, veral nadat diere verskuif of hanteer is.

Ons swartwitpens/bastergemsbok-reeks is gemaak vir die meer selektiewe grasvreter. Dit bevat ’n minimum van 15% proteïene. Die mineraal en vitamien konsentrasie in hierdie dieet is so geformuleer om die stapel-kegelgroei van hul horings te optimaliseer.

Gemsbok

Die gemsbok is endemies tot Suid-Afrika en Namibië. Daar is vier subspesies waarvan die Oryx gazella gazella in Suid-Afrika voorkom. Hierdie bokke verkies droë areas, semi-woestyn en oop grasvelde (soos die Kalahari). Hulle kan in baie droë omgewings oorleef en drink slegs vier tot ses liter water per dag, indien beskikbaar. Gemsbokke is hoofsaaklik grasvreters, maar in sommige areas is hulle gemengde vreters waarvan 70-85% van hulle dieet uit grasse en 25-30% uit blare en struike bestaan. Gemsbokke lek en versorg nie mekaar soos baie ander boksoorte nie en kan daarom nie van oortollige ekterne parasiete ontslae raak nie. Hulle is sensitief vir hoë parrasiet besmetting.

Die gemsbok wildspil is spesiaal vir selektiewe grasvreters. Dit bevat ’n minimum proteïenwaarde van 15%. Die mineraalinhoud, aminosuursamestelling en vitamienkonsentrasie van hierdie pil is baie gespesialiseerd, aangesien spesifieke mineraal onsentrasie in die voer ’n groter rol speel in horing groei van hierdie spesie in vergelyking met ander bokke.

Eland/rooibok

Rooibokke het oorspronklik sewe subspesies gehad, maar slegs drie word deur die Rowland Ward trofeeregister aanvaar. Aepyceros melampus melampus, A. m. suara en A. m. rendilis. Rooibokke kom meestal in bosveld areas voor met ’n jaarlikse reënval van 400-700mm. Hulle is gemengde vreters en die verhouding tussen gras en blaar innames hang af van die seisoen, reënval en habitat.

Die Tragelaphus oryx eland het drie subspesies. Die Kaapse eland, Livingstone eland en die Patterson eland. Elande kom in areas voor met ’n jaarlikse reënval van 250 -1200 mm. Hierdie areas sluit in: Namaqualand, Karoo, Oos-Kaapse ruigtes, hoëveld graslande en die Kaapse fynbos. Elande benodig hoë proteïen waarders tussen 13-15%. Gras inname is ten minste 30% van hul dieet, maar sekere tye van die jaar kan dit tot 92% styg.

Die rooibok/eland wildspil is geformuleer vir hierdie gemengde vreter voedingsgroep. Hierdie wildspil het voedingswaarders tussen dié van grasvreters en blaarvreters, met ’n minimum proteïenwaarde van 15%.

Springbok

Die springbok is endemies tot Suid-Afrika. Daar bestaan twee subspesies, naamlik A. m. marsupialis en A. m. hofmeyri. Kleurvariasies sluit in: algemeen, swart, wit, koper, room, blou, maroela, koffie, koning en bont. Springbokke word meestal in dorre, droë graslande van Suid-Afrika gevind. Springbokke is gemengde vreters wat kort, soet grasse en sappige blare vreet. Grasse word meestal in die somer gevreet en blare in droë wintermaande. Springbokke is baie vatbaar vir Hartswater en is nie goed aangepas tot hoë eksterne parasiet-tellings nie.

Ons Springbok wildspil is geformuleer om hierdie gemengde vreters gedurende droë seisoene aan te vul, asook om die nodige vitamiene en minerale aan hulle te veskaf vir optimale reproduksie, haarkleed voorkoms en algehele gesondheid. Dit bevat ’n minimum proteïenwaarde van 15%.

Koedoe

Die koedoe is oorspronklik van die Noordelike halfrond. Hulle het eers later versprei vanaf Europa en Asië na Afrika. Die twee koedoe-spesies wat bestaan is die “lesser kudu” en die “greater kudu”, waarvan laasgenoemde vier subspesies het. Die koedoe kom wyd verspreid in Suid-Afrika voor. Koedoes kom voor in areas met ’n jaarlikse reënval van 500-700mm. Boom- en struikdigtheid is belangrik in hul habitat. Koedoes se dieet sluit in: smaaklike, sappige blare van bome en struike en hoë proteïenwaarde vrugte.

Hierdie wildspil is spesiaal vir koedoes. Dit verseker optimale liggaam en horing groei. Koedoes is selektiewe blaarvreters en hierdie wildspil het ’n minimum proteïenwaarde van 16%.

Njala

Daar bestaan agt verskillende njala-spesies. Njalas kom natuurlik voor in Malawi, Mosambiek, Zimbabwe en Suid-Afrika. Hulle is baie selektiewe gemengde vreters en vreet ’n groot verskeidenheid soet grasse, struik- en boomblare. Njalas is goed aangepas om te wissel van 90% blaar innames na 70% gras innames, afhangend van die seisoen. Oor die algemeen sal hulle dieet 12-30% gras bevat. Njalas is baie sensitief vir verandering van voeding en pas nie goed aan op lae kwaliteit voer nie. Skielike verandering van voer kan clostridia enteritis en sterftes veroorsaak.

Die Njala wildspil kan vir njalas, koedoes en bosbokke gevoer word. Hierdie pil is spesiaal vir plase waar die spesies almal in dieselfde kampe loop. Hierdie wildspil is geformuleer vir selektiewe blaarvreters met ’n minimum proteïenwaarde van 16%.

Spesiale versoeke

Ons Bobaas+ reeks stop nie hier nie. Formulasies kan aangepas word om spesifieke behoeftes te bevredig. Spesiale versoeke sluit in:

  • Immuniteit-stimulasie

Belangrik tydens:

– Verskuiwing van wild

– Hantering van wil

– Aanpassing

  • Parasietbeheer

– Ontwurming

– Ekterne parasiete

  • Kruipvoer

– Aanvulling vir pas-gespeende diere

– Ander spesies bv. klein bokkies (duikers)

Die Bobaas+ reeks het hoër vlakke metaboliseerbare aminosure, wat die boustene van proteïene in vleis, melk, haarkleed en horings is. Vir meer inligting oor hierdie reeks kontak Wildswinkel se voedingkundige.

Klassifikasie/formaat: Sagte wildspil (deursneë 10mm of 6mm)

Doel: Semi-volledige voer of aanvullingsdieet vir wild onder semi-intensiewe boerdery

Voer aanbevelings: Voer volgens voedingkundige se aanbevelings

Bobaas

Blaarvreter pille

Beskrywing: Hierdie wildspille is geformuleer vir alle blaarvreter-spesies asook gemengde vreters. Grasvreters kan ook blaarvreterpille gevoer word, maar teen laer innames.

Doel: Semi-volledige voer of aanvullingsdieet vir wild onder semi-intensiewe boerdery.

Klassifikasie/formaat: Sagte wildspil (deursneë 10mm)

Voeraanbevelings: Sien tabel

Spesies:

  • Duikers
  • Bosbokke
  • Njalas
  • Koedoes
  • Springbokke (laer innames)
  • Rooibokke (laer innames)
  • Elande (laer innames)
  • Bastergemsbokke (laer innames)
  • Swartwitpense (laer innames)

Grasvreter pille

Beskrywing: Die grasvreter pille is vir alle grasvreter-spesies, asook vir gemengde vreters. Sekere blaarvreters kan ook van die grasvreter pille gevoer word, maar teen laer vlakke.

Doel: Semi-volledige voer of aanvullingsdieet, vir wild onder semi-intensiewe boerdery.

Klassifikasie/formaat: Sagte wildspil (deursneë 10mm)

Voeraanbevelings: Sien tabel

Spesies:

  • Buffels
  • Blou wildebeeste
  • Swartwitpense
  • Bastergemsbokke
  • Elande (laer inames)
  • Rooibokke (laer inames)
  • Springbokke (laer inames)

Boerekos

Beskrywing: Ons boerekos pille is so geformuleer dat byna alle spesies van hierdie voer kan eet. Hierdie alles-in-een pil is spesiaal vir boere wat verskillende spesies in dieselfde kampe aanhou. Ons beveel aan dat baie selektiewe spesies, soos die blou duiker, nie die boerekos eet nie. Voer eerder ’n blaarvreterdieet. Ander spesies wat nie geskik is om hierdie voer te vreet nie sluit renosters en olifante in.

Doel: Semi-volledige voer of aanvullingsdieet vir wild onder semi-intensiewe boerdery.

Klassifikasie/formaat: Sagte wildspil (deursneë 10mm)

Voeraanbevelings: Sien tabel

Konsentraatvoer

Beskrywing: Die konsentraat is spesiaal vir boere wat self voer vir hulle wild meng. Dit is vir boere wat ’n energiebron soos hominy chop, asook ’n ru-voerbron soos lusern aan wild verskaf. Hierdie konsentraat sluit al die makro- en mikro-minerale, asook die belangrike vitamiene, aminosure en vetsure vir goeie produksie en groei in.

Doel: Konsentraatmengsel. Voer moet nooit alleen gevoer word nie. Meng met ’n ru-voerbron en energiebron.

Klassifikasie/formaat: Los voer, geskik om met ’n ru-voerbron en energiebron te meng.

Voeraanbevelings: Kontak voedingkundige vir spesifieke mengresepte.

Aanbevelings

Voeraanbevelings

Aanvullings word gevoer waar daar voldoende kwantiteit en kwaliteit weiding is en die doel is net om voedingstekorte aan te vul.

Semi-volledig word gevoer indien daar nie voldoende kwantiteit en kwaliteit weiding is nie en die doel is om weiding gedeeltelik te vervang.

Die spesifieke hoeveelheid wat gevoer word hang af van die seisoen, gewig van diere en beskikbaarheid en kwaliteit van die weiding.


Praktiese aanbevelings

Voerarea

  • Verseker dat diere toegang het tot vars en skoon water. Maak seker dat die water op ’n gereelde basis getoets word om hoë kwaliteit water te verseker.
  • Verskaf genoegsame lusern en/of gras aan diere. Hoeveelhede sal afhang van spesie tot spesie.
  • Verseker dat voerbakke op ’n gereelde basis skoongemaak word om die opbou van bakterieë en muf te verhoed.
  • Waterbakke moet ’n afstand van die voerbakke geplaas word. Hierdie praktyk verseker dat daar minder voer in die waterbakke beland.
  • Skuif voerbakke gereeld om sodoende die opbou van bakteriese en ander patogene te beperk.
  • Voerbakke moet op ’n aanvaarbare hoogte vanaf die grond geplaas word. Hoogtes sal afhang van die spesies betrokke.
  • Indien voer nat gereën het, moet die voer verwyder word en bakke moet skoongemaak word.
  • Haarkleed, horing groei, liggaamskondisie en gesondheidstoestand is ’n goeie aanduiding van die voedingstatus van die dier.
  • Diere wat sosiale-, omgewings- of voedingstres ervaar mag vatbaar wees vir parasiete. Maak seker om gereeld mismonsters te analiseer vir interne parasiet-tellings. Behandel diere indien nodig.

Voerinnames

  • Wildspille moet nooit ad hoc gevoer word nie, behalwe as dit ’n volledige voer is wat vir hierdie doel deur ’n Wildswinkel voedingkundige aanbeveel word.
  • Voer altyd volgens die voedingkundige se aanbevelings (sien ook voedingstabel).
  • Dit is belangrik dat alle diere in ’n kamp die voorgestelde hoeveelheid voer inneem. Maak seker dominante diereverhinder nie die minder dominante diere om te vreet nie.
  • Hou die liggaamskondisies van diere dop om te verseker dat alle diere in die kamp die korrekte hoeveelhede voer inneem.

Voerspasie

  • Korrekte voerspasie is belangrik om te verseker dat al die diere in die kamp die regte hoeveelde voer inneem.
  • Kampe waar vroulike en manlike diere saam loop, moet ekstra spasie toegelaat word. Asook diere met groot horings en waar hoë dominansie gesien kan word.
  • Verseker dat daar ‘n minimum van 2.5 dierlengte spasie tussen die voerbakke is.
  • Een voerbak per dier, met ’n ekstra bak vir elke vier diere in die kamp. Verseker altyd dat daar meer voerbakke in die kamp is as die hoeveelheid diere.
  • In kampe met kleiner diere kan lang, reghoekige bakke gebruik word.

Aanpassing

  • Indien diere na ’n nuwe voer oorskakel, is dit belangrik om die diere ’n vier-week aanpassingsperiode te gee.
  • Diere wat vir die eerste keer wildspille gevoer word, moet as volg gevoer word:
    • Week 1: ¼ van voorgestelde voerinames
    • Week 2: ½ van voorgestelde voerinames
    • Week 3: ¾ van voorgestelde voerinames
    • Week 4: Volledige voorgestelde voerinames kan gevoer word
  • Indien diere van een voer na ’n volgende oorskakel, moet hulle geleidelik blootgestel word aan die nuwe voer.
  • Bokke wat baie sensitief is vir voerveranderinge moet ekstra tyd gegun word om aan te pas by die nuwe voer.

Stoor van voer

  • Die stoorkamer waarin voer gehou word moet goeie ventilasie hê.
  • Moenie voer in direkte sonlig stoor nie.
  • Plaas voer op palette in die stoorkamer.
  • Verseker dat daar geen insekte, rotte of voëls naby die voer kan kom nie.
  • Stoor voer waar dit nie kan nat reën nie.
  • Voer kan tot en met drie maande gestoor word.